Dr Bernhard Ficker, Somerset-Wes skryf:
Johann Basson se agt vrae (Kerkbode,
1 Junie 2012) vereis kommentaar.
Die meeste Nuwe-Testamentiese skrywers verwys na Adam. Of hulle almal lieg vir ons, of ons moet hulle glo. Volgens mikro-evolusie se natuurwette, moet daar ’n oer-ouerpaar wees. Makro-evolusieteorie beweer darenteen dat lewe en die mens vanselwers vanuit ’n oer-mikrobe en modderpoel ontstaan het. Elk vereis ’n geloofsprong in ’n Skepper-God of ’n modderpoel as ons aartsmoeder.
Sonde is ’n kernbeginsel van Bybelleer. Daarsonder is die soendood van Christus heeltemal onnodig. Erfsonde vind nie neerslag in ons DNS nie, want moraliteit word nie in DNS vasgevang nie.
’n Mens kan nie die ewige lewe bekom deur die gebooie na te kom nie, want dan word ons op basis van ons eie werke en ons perfeksionisme gered en word die soendood en genade van Christus irrelevant. Die eerste gevolg van bekering is ’n bewuswording van jou sondigheid. Soos Christus gesê het, “gaan en sondig nie meer nie”. Die Bybel definieer sonde as die oortreding van die Wet van God, en Christus het kom verduidelik wat wetsverbreking in die praktyk behels.
Die gebooie van God is daargestel as die morele riglyn waarvolgens ons moet leef. As ons God liefhet, sal ons sy gebooie bewaar en onderhou. Ons word uit genade gered, maar by die oordeelsdag sal ons volgens die wet van God geoordeel en veroordeel word. Diegene wat nie die vrugte van die Gees volgens die wet van God voortgebring het nie, sal uitgekap en verbrand word. Dit is die daders van die wet wat geregverdig word, nie die hoorders nie (Rom 2:13).
Ja, selfs die heidene wat nie bewus was van Christus of sy wet nie, kan geregverdig word as die Heilige Gees die wet van God in hulle hart skryf en hulle gehoor daaraan gee, soos Romeine 2:14-16 verduidelik.
BH Gildenhuys, Brooklyn 0181
Ek reageer op Johann Basson se vraag, “Erfsonde: Ja of Nee?” (Kerkbode, 1 Junie 2012).
Enige genetikus of mediese kenner sal waarskynlik antwoord dat sonde nie vererf kan word nie. Die erfsonde soos deur die kerklike dogma verkondig, is ’n mensemaaksel of in gewone Afrikaans, bogstories. Dit loop hand aan hand met die sogenaamde sondeval wat alles fabrikasies is van hoofsaaklik Augustinus (354-430).
Nee, daar bestaan nie iets soos erfsonde nie, dit is fisiologies onmoontlik. Dit is eerder deel van die passieverhale wat oral in die Bybel voorkom.