KUILSRIVIER. – Die NG Kerk se Algemene Sinode-besluit oor die bose het daartoe gelei dat een van die kerk se leiersfigure van leerdwaling aangekla is.
Die klag teen dr Ben du Toit (foto) is ingedien deur ’n ontevrede lidmaat, dr Wynand Louw van Melkbosstrand in die Kaap. Dr Du Toit is deur ’n ringskommissie onskuldig bevind.
Dr Wynand Louw het egter appèl aangeteken teen die Ring van Kuilsrivier se uitspraak. Die klag volg op ’n uitlating wat dr Du Toit sou gemaak het aangaande die bestaan van die duiwel.
Dr Du Toit is die direkteur: kommunikasie van die NG Kerk se Sinode van Wes-en-Suid-Kaap en redakteur: elektroniese kommunikasie van die Algemene Sinode. Hy hanteer ook die NG Kerk se Parlementêre Lessenaar vir die Algemene Sinode.
Die NG Kerk het verlede jaar tydens sy Algemene Sinode besluit daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
Die dagblad Beeld het destyds berig dr Du Toit het tydens die debat, waarin hy hom ten gunste van die besluit uitgespreek het, gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar egter die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus.
Dr Louw beskou dr Du Toit se uitlating as dwaalleer. Die ondersoekkommissie het dr Du Toit se verweer, dat hy binne die besluite van die Algemene Sinode is, gehandhaaf.
Dr Du Toit het aangevoer sy standpunt oor hierdie saak is volledig na letter en gees te vind in die besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Die voorsitter van die ringskommisie wat die saak aangehoor het, ds Herman Burger, het op navraag aan Kerkbode gesê die saak is tans onder appèl en geen verdere kommentaar kan vir eers gelewer word nie.
Die besluite van die Algemene Sinode, waaroor die klag in hierdie geval handel, is tydens die sitting van die sinode in Oktober 2011 geneem – en lui onder meer soos volg: “Die Algemene Sinode moedig daarom alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees (in die gees van die oorwinning van Jesus) die boosheid die stryd aan te sê deur spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus, sodat die kerk die ware kenmerke van evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon.
“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”– jean@tydskrifte.co.za
Volgens die sinodebesluit dwaal dr du Toit nie, maar volgens die Bybel wel.
Stefaan de Jager
13/06/2012 at 22:07
Kwade dag dat die kerk ‘n klag teen een van sy dominees moet ondersoek omdat hy nie in die duiwel glo (soos wat die klaer dit verwag) nie! Moet die kerk regtig so tyd mors om aanklagte te moet ondersoek teen dominees se geloof al dan nie in die duiwel? Kom ons konsentreer liewer op wat die Algemene Sinode gevra het – veg teen die boosheid (veral in my eie lewe) deur te konsentreer op die genadige verlossingswerk van Christus. Kom ons spandeer eerder ons energie en tyd daaraan om Christus se oorwinning meer sigbaar te maak.
Johan Conradie
14/06/2012 at 07:07
As daar nie ‘n duiwel is nie waarvan moet jy verlos word?
Dirk
14/06/2012 at 08:49
My probleem met die artikel en kommentaar is nie Dr Ben du Toit se standpunt nie. Ek dink as die detail van standpunte ontrafel word sal daar soveel wees as wat daar vingerafdrukke is. My probleem is die standpunt van die Algemene Sinode met sy uitspraak hieroor na die sitting van Oktober 2011. Hy wil al die vingerafdrukke in een laai bêre ter wille van eenheid in die kerk.
Hierin lê vir my die dilemma: hoe meer ruimte daar geskep word vir verskille in sieninge en vertolking van woorde, hoe minder eenheid is daar in die kerk! Moet ons nie braaf genoeg wees om te sê wanneer ons nie weet nie, en dapper genoeg om die detail van ons standpunt te verduidelik as ons die oortuiging het nie? Dit is vir my heeltemal aanvaarbaar dat iemand sê wat hy glo, maar wat glo die Algemene Sinode?
WR Haan
14/06/2012 at 21:14
Die anderdag staan ek in ‘n Supermark in die ry en wag om te betaal vir wat ek gekoop het. Toe dit my beurt is om te betaal maak die dame ‘n foutjie op die till-rekenaar. ‘Askies meneer, dis die duiwel se skuld!’ soek sy versagting by my. ‘Die duiwel… nie jy nie?’ vra ek haar met ‘n glimlag op my gesig. ‘Haai meneer hoe kan meneer nou só sê?’
Die duiwel word vir alles blameer, gespel met ‘n hoof of kleinletter! Hy bly in die sop. Arme duiwel.
In die kerkgeskiedenis lees ons baie van ‘Teen’ aksies en skrywes teen iemand wat een of ander ‘verbintenis’ met die duiwel sou gehad het. ‘Teen Celsus’; ‘Teen Aruis’; ‘Teen Müller’; ‘Teen Human’; ‘Teen le Roux’; en nou ook weer ‘Teen du Toit’.
En soos gewoonlik is die duiwel weer pens en hoefies in die woelinge.
Ek is só moeg vir hierdie ewigdurende ‘Teen’ stryd in die Kerk van alle plekke! En ek gaan nou reguit sê wat my seker ook voor ‘n Ring kan laat beland: Ons Christendom is ‘n plek vol bloed. Die bloed van mense, kollega’s en sommer ook almal wat nie soos ons dink nie, want dán moet hulle tog aan die duiwel behoort! Baie van die kerk se mense is erger as hemeldragonders met vlymskerp bebloede sense! Vervolg, kla aan en breek geknakte riete summier af.
Soms vra ek myself af: Waarom behoort ek nog aan só ‘n groep ‘gelowiges’? Ek rebeleer nou teen hierdie ewigdurende kerklike gevegte en aanklagte wat natuurlik altyd ‘in en tot eer’ van Sy Naam plaasvind! Dit dien uiteindelik net die ‘saak’ van hierdie rooi pylstert mannetjie waaroor dit gaan!
Het die kerk se ‘Luister seisoen’ nét ‘n vertikale dimensie gehad en het dit nooit by ons opgekom om ook na mekaar te luister nie? Omdat ons dit nie doen nie en daar min kerklike ruimte bestaan daarvoor, word ons eensame reisigers.
Dr. Adriaan van der Wart
18/06/2012 at 12:00
Dis werklikwaar jammer dat daar lidmate in ons kerk is wat so met die sogenaamde duiwel behep is. Wil hulle nie maar let op wat die sinode vra om eerder “spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus, sodat die kerk die ware kenmerke van evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon” nie? Ons is mos nie duiweldrywers nie, maar aandraers van liefde, genade, vergifnis en versoening.
gerhard bothma
18/06/2012 at 18:06
As ek so na die geskiedenis van die mensdom kyk kan ek nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat daar in die mens se gene een of ander bose afwyking bestaan nie.Watter benaming ons hierdie afwyking ookal noem is nie ter sake nie. Feit is:DIT BESTAAN.Enigeen wat die boosheid in die mensdom ontken ontken die geskiedenis van die mensdom.
Frank Ehmke
20/06/2012 at 08:15
Haal die draak en die duiwel uit Openbaringe, en wat bly oor.
Kom ons kom maar net ooreen dat ons met mekaar gaan verskil op grond van individualiteit en dat Jesus op grond van God se geloofsopenbaring die Alfa en die Omega bly.
Ds Dawie Swart
21/06/2012 at 09:31
Gee vir Ds. Ben du Toit ook ‘n kans om sy kant van die saak te stel.
Edwin Müller
Sasolburg
Edwin Müller
04/07/2012 at 17:21
die duisternis bestaan wel God se woord se dan hy wat die HERE met sy mond verdelg en Sy wederkoms tot niet maak hy wie se koms is volgens die satan met kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en GOD gaan hulle die krag stuur om die leuen te glo sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie maar behae gehad het in die ongeregtigheid.ons glo GOD het ons lankal gekies dis ons beurt om te kies. 2TESS 2 U het geskryf daar is mense wat in satan glo n CHRISTEN aanbid nie op selfde plek as so iemand en sou ons die glo vervang met bewus is begin die gesprek n ander wending aanneem MAG GOD ONS BEWAAR EN BESKERM TEEN DIE DUISTERNIS
JACO V /D BERGH
04/07/2012 at 22:09