Die bestaan van Satan as ’n persoonlike wese is besig om opnuut opslae in die kerk te maak.
Sommige lidmate en predikante hou vol Satan bestaan wel as ’n spesifieke wese met ’n persoonlike identiteit, terwyl ander dit ontken. ’n Artikel wat op die Fakulteit Teologie van die Universiteit Pretoria se webwerf teo.co.za verskyn het, verklaar dat Satan as persoon nooit deel van Ou Israel se geloof was nie.
Die redakteur van die webwerf en skrywer van die artikel, dr Gerda de Villiers, sê Bybellesers moet versigtig wees om die latere duiwel van die Nuwe Testament en Christelike kerk in tekste in te lees, want “die Ou Testament ken hom nie”.
Dr De Villiers sê dit is te betwis of daar werklik ’n figuur in die Ou Testament met ’n persoonlike identiteit is wat “Satan” heet en wat as ’n spesifieke wese bestaan.
Aan die hand van verskeie tekste in die Ou Testament ondersoek haar artikel die verskillende kontekste waar “Satan” in die Hebreeuse Bybel voorkom. Sy kom tot die slotsom dat die konsep van die satan as “Bose”, as die Here se aartsvyand in die Ou Testament, afgewys moet word. “Selfs waar hy die mens leed aandoen of beskuldig, staan hy steeds onder gesag van die Here en tree hy nie as God se teenpool op nie.”
Die debat oor die bose en die aard daarvan het nuwe momentum gekry na ’n besluit wat die NG Kerk se Algemene Sinode verlede jaar daaroor geneem het. Volgens dié besluit word die bestaan van die bose geensins ontken nie. Die sinode het egter besluit daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ook ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
Die volledige artikel kan op teo.co.za gelees word by: http://teo.co.za/artikel/articles/473/1/Satan-in-die-Ou-Testament/Bladsy1.html.
– jean@tydskrifte.co.za
Dr De Villiers sê in haar artikel: Satan as persoon, as vyand van die Here was nie deel van Ou Israel se geloof nie. Wanneer ons die Ou Testament lees, moet ons hierdie wêreld in gedagte hou, en versigtig wees om die latere duiwel van die Nuwe Testament en Christelike kerk in tekste in te lees. Want die Ou Testament ken hom nie.
Ek wil my nie inlaat op die argumente wat sy aanvoer vir haar konklusie nie. Daar is egter ‘n hoek vanwaar ons na die saak moet kyk en dit is om te vra hoe die mense in die tyd van Jesus die OT verstaan het. Ek meen hulle sal met Gerda verskil oor die wyse waarop sy Ou Israel se geloof, nou 2000 jaar later verstaan.
Dit word algemeen aanvaar dat Matteus sy Evangelie aan Palestynse of Joodse lesers gerig het. As hy vir hulle vertel van Jesus se versoeking deur die duiwel, vind Matteus dit nie nodig om sy lesers in te lig oor die konsep “duiwel” nie. Hy aanvaar dat hulle presies weet van wie (LW wie!) hy praat. Waar sou hulle geleer het van die duiwel, anders as in die sinagoges, waar hulle deur die rabbi’s onderrig is. In Mat 12:22 beskuldig die Fariseërs Jesus dat hy die bose geeste met behulp van Beëlsebul uitdryf. Beëlsebul was volgens hulle siening die aanvoerder van die bose geeste. In die gesprek wat volg skakel Jesus oor na die gebruik van die naam Satan vir Beëlsebul. Weereens vind Matteus dit nie nodig om vir sy lesers te verduidelik waarvan hy praat nie. In Mat 27:46 verduidelik Matteus die betekenis “Eli, Eli, lemá sabagtani?”, vir lesers wat dit nie verstaan nie, as hy sê: Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? Nêrens vind Matteus of die ander evangeliste dit nodig om hulle lesers te verduidelik waarvan hulle praat as hulle van die duiwel praat nie.
Die argument wat in die verslag wat voor die Algemene Sinode van 2011 gedien het, dat die Jode ‘n Persiese konsep vir die duiwel oorgeneem het, gaan nie op nie. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs was immers geweldig gekant teen die heidene en heidense invloede. Hulle sou beslis nie so ‘n belangrike teenstander van Jahwe, met die naam Satan, van die heidene oorgeneem het nie. Nee, hulle verstaan van ‘n persoon met die naam Satan was gegrond op die Wet en die Profete, waarmee hulle grootgeword het en waarin hulle net soos Jesus van kleins af onderrig is.
Dr De Villiers kan dus nie op grond van haar uitleg van die Hebreeuse taal tot die gevolgtrekking kom dat die mense van die OT nie geweet het van ‘n wese met die naam Satan nie.
Jan Louw
10/08/2012 at 08:46