Op ‘n oorwinningspad

Geliasieer onder: Profiel |

Die skilder Munro, sy vrou Janine en hulle klein Joshua, is op ’n goeie plek in hulle lewe – geestelik én geografies. Maar dit het hulle lank geneem om hier te kom. Dit het niks minder nie as die Here se wonderwerkende krag vereis, het hy aan CORELI ROOS vertel.

D ie gesellige kuierstoep omarm Munro se woonhuis, op die hoek van twee Bethulie-stofstrate in die landelike Suid-Vrystaat. Dié bekende kunstenaar het met sy natuurlike argitektoniese aanleg pas die stoep blootgelê – deur die muur, wat nou netjies en plat op die grond lê, af te breek. Die afwesigheid van veiligheidsdeure is opvallend. Hy glo in die Here se beskerming, sê hy. Drie jaar gelede, in die middel van ’n yskoue winter, het Munro en sy gesin Bethulie hulle nuwe tuiste gemaak.

Hy het beleef, vertel hy, dat die Here hom dringend waarsku om uit die Kaap weg te kom. Die lewe in die stad het “vuil” gevoel. Die fisieke, geestelike, morele en sedelike verval wat hy rondom hom waargeneem het, het ’n rol in sy besluit gespeel. Hy was bloot gehoorsaam, sê hy, maar sonder dat hy geweet het waarvoor hy hom inlaat. Toe hulle binne ses maande uit hulle Bethulie-huurhuis moes trek omdat dit verkoop is, het hulle ’n “renovater’s dream” vir ’n winskoop raakgeloop – en dit daar en dan gekoop.

Paradigmaskuif Om af te skaal was nie deel van sy plan nie, maar “dit het net gebeur”. Skielik is hulle met armoede in hulle nuwe omgewing gekonfronteer. In die winter het hulle kinders sonder skoene sien skool toe loop. ’n Sosiale bewustheid het gevolg: Hoe kon hulle rojaal lewe as daar mense is wat nie skoene – of kos – het nie?  Sy waardes en leefstyl het drasties verander, meer basies geword. Nóú dink hy twee maal voordat hy enigiets koop.

Hy wys na sy kakie-verwersbaadjie, vol kleurvolle verfstrepe en -kolle. Dit is ’n peperduur Timberland. “Ek sal dit nie nou meer koop nie, nie eens teen die koue nie. ’n Mens kan tien arm gesinne vir ’n week lank met die prys daarvan kos gee. Só verander die Here ’n mens!” sê hy. “Ek glo Hy het dinge so bewerk om my skuldig te laat voel oor hoe ons geleef het. Dit is noodsaaklik om aalmoese te gee, om te leef volgens Jesus se voorbeeld en nié alles op jouself te bestee nie.”

Van sukkelbestaan ­ na sukses Sewentien jaar gelede het Munro ’n sukkelbestaan gevoer. Om te kon oorleef, was hy onder meer ’n fotograaf by Pilgrim’s Place in Pelgrimsrust, terwyl hy ook snuisterye gemaak en “’n bietjie geskilder” het. Volgens hom is dit baie moeilik om werklik toegang tot die gerekende kunskringe te verkry. Die vermoorde skilder, Cornelius Bosch, ’n goeie vriend, het egter gehelp deur hom aan Alice Art Gallery in Roodepoort voor te stel. Toe pas geskei, het hy soos ’n mislukking gevoel, baie gewroeg. En hy het die Here om leiding gevra. Toe “gee” die Here hom die skildernaam “Munro”.

Dit was soos ’n heel nuwe begin. Sy eerste deurbraak het onmiddellik na die naamsverandering gekom. Op 29 was hy feitlik oornag ’n sensasie. Saam met Alice is hy na Decorex en na die Randse Paasskou waar hy met sy bouerstroffel – ’n unieke tegniek, wat hy sê die Here aan hom gegee het – voor die toeskouers geskilder het. Alles het verander. “Dit was soos ’n wonderwerk!” Eensklaps het hy ’n wonderlike lewe gehad. Sukses en bekendheid, met meer as 11 000 werke wat oor die jare heen verkoop is. In 2005 reeds het ’n Munro-skildery nie minder nie as R100 000 op ’n liefdadigheidsveiling ten bate van Matlaabana (van Monique en Kallie Strydom) behaal.

En toe, agt jaar gelede, is hy met Janine getroud. Hulle was toe albei in hulle laat-dertigs. Hy was reeds sedert hulle skooldae op haar verlief, vertel hy. Janine het haar loopbaan as loods en vlieginstrukteur prysgegee om voltyds aan sy sy te wees. Ingryping Maar in 2007 tref die ongeluk hom toe sy alleenagent, wat vir hom soos ’n pa en ’n mentor was, hom sonder waarskuwing in die steek laat. Dit was ’n geweldige emosionele skok. En potensieel ’n finansiële ramp; die versekering van ’n vaste inkomste het oornag verdwyn. Die Here het egter wonderbaarlik bly voorsien, en in omstandighede wat buitengewoon moeilik was.

Deur in geloof op Hom te vertrou, kon hulle hulle aansienlike maandelikse verpligtinge nakom. Nou het dit ’n lewenswyse geword: Die vaste wete dat God hulle redding is. “Moet op prinse nie vertrou nie,” sê Munro. “Ek het kontak verloor met galerye en die kunsbedryf en ek het hulle kwaad gemaak. Janine het egter na hulle toe teruggegaan en weer begin om die bande op te tel en dit op te bou. Ek is na Alice toe, het erken dat ek ’n fout gemaak het en om vergifnis gevra. Verlede jaar het ons weer begin besigheid doen.” Janine behartig alle aspekte van die onderneming, en sy is ook ’n kranige bakster, wat graag die gesin met vars tuisgebak bederf.

Sy onderrig ook hulle vierjarige Joshua tuis. Hulle glo daaraan om Joshua volgens Bybelse beginsels te dissiplineer. En omdat hulle hom gebalanseerd wil opvoed, met gesonde sosialisering, het Janine nog twee ander kleuters gratis in haar “skooltjie” ingeneem.

Veelsydige selfdoener Munro is ’n selfdoener. Hy doen alles asof hy dit vir die Here doen en wend sy tyd produktief aan. Wanneer hy nie skilder of aan die huis werk nie, hou hy homself graag besig met kreatiewe dinge – soos die verfraaiing van die tuin, binnenshuise argitektuur … of kos maak. Munro sê hy voel altyd ’n bietjie onseker voordat hy met ’n skildery begin. “Ek bid terwyl ek besig is en vra die Heilige Gees se leiding. Ek pak slegs temas aan wat my kind, of enige kind, na kan kyk.

Ek is hoofsaaklik bekend vir my kleurvolle landskappe, blomme en tulpe, maar ek hou baie daarvan om nostalgiese werke uit die verlede, sowel as avant garde-figure en abstrakte werke te skep.”

Uitdagings Toe Munro hom op Bethulie gaan vestig het, was hy vir etlike jare reeds publisiteitsku en het hy personderhoude vermy. Dit was ook vir hom vreesaanjaend om voor mense op te tree. “Die Here kyk na ’n mens se hart, en my hart was nie reg nie,” verklaar hy die oorsaak van die vrees waarmee hy geworstel het. “Ek het trots en selfvoldaan geword, té suksesvol. En die werksdruk was te groot. Ek het op myself begin staat maak, my oë van die Here afgehaal en die eer vir myself geneem.” In dié proses het hy homself met ander kunstenaars begin vergelyk. En die gevolg was dat hy begin glo het dat hy nie goed genoeg is nie.

Sy selfbeeld het skade gely en hy het ’n minderwaardigheidskompleks ontwikkel. “Waar ek voorheen maar net ’n bietjie menssku was, was ek nou amper neuroties om voor mense op te tree,” vertel hy.  Toe het hy daaroor begin bid – en hoofsaaklik om hierdie vrees te oorwin. Hy het geweet dit sou gebeur, want die Here het hom reeds tevore gehelp om baie struikelblokke te oorkom – soos die losbandige lewe en oormatige sosiale drinkery. “Dit het gebeur toe ek op 24 in Christus ’n nuwe mens geword het.”

’n Volle sirkel Op Bethulie sien hy hoe die Here se wonderwerke plaasvind. Hoe gebede verhoor word. Sowat ses maande gelede het ’n plaaslike sakeman hom genader om vir ’n klompie besoekende Amerikaanse Mennoniete-studente te wys hoe sy verftegnieke werk. “Ek het teensinnig ingestem toe hy my, jy kan maar sê, gedwing het,” vertel Munro, “maar ek het dit toe baie geniet! Dit was vir my ’n deurbraak. Skielik was die ys gebreek.” Hanno Oosthuizen, bestuurder van De Stijl Hotel in die buurdorp, Gariepdam, het hiervan gehoor en Munro genader om sy werk daar uit te stal.

Omdat die meeste van sy werke groot is (sommige tot 2,4 x 2 m), is die hotel perfek daarvoor geskik. Dit is ’n permanente reëling, en is Munro se eerste solo-uitstalling in meer as vyf jaar. Tydens die openingsgeleentheid het hy weer ’n skildery gemaak. Hierdie keer was daar meer mense teenwoordig – én dit was makliker. Die volgende stap was toe hy by vanjaar se KKNK voor nóg meer mense geskilder het. Elke keer was dit ’n bietjie makliker. En toe, uit die bloute, kom Alice Art Gallery en vra hom om komende Oktobermaand by die Mosaïek-kerk in Roodepoort, wat 5 000 men­se kan huisves, op te tree.

Hierdie optrede, sê hy, sal aan hom ’n unieke geleentheid gee om die evangelie te bring, om te getuig wanneer hy die mense se vrae beantwoord. “Ek vra al lank vir die Here wat ek vir Hom kan doen. “Dalk kan ek, deur my talente só te gebruik, net ’n saadjie plant. Paulus het mos gesê dat een plant, en dat ’n ander natmaak, maar dat dit God is wat laat groei. Ek weet nie waarheen die Here my neem nie, maar ek voel baie opgewonde daaroor.

Ek dink Hy het my hierop voorberei. Dit voel amper asof ek ’n volle sirkel voltooi het om my weer te bring tot waar ek was – naamlik in afhanklikheid van Hom. Dit is ’n heiligmakingsproses. From glory to glory. “Ek moes weer leer om die Here met die proses – my lewenspad – te vertrou. Om nie haastig te wees nie en op die Here se tyd te wag. Voorheen het ek soms sy arm probeer draai. Ek voel nou skaam daaroor.”

- Coreli Roos is ’n vryskutjoernalis.

2 Responses to Op ‘n oorwinningspad

  1. Tydens die Reinders-fonds-insameling op 27 November, is daar met entoesiasme gebie vir die lieflike kerskoek wat Susan Viljoen spesiaal vir die geleentheid gebak en versier het. Die uitsonderlike vrugtekoek, getooi met die fraaiste marsepeinvruggies, elkeen perfek met die hand gevorm, het ‘n volle R600 tot die fonds bygedra.Susan, wat in 1969 aan die sy van houtwerkonderwyser Pieter Viljoen as gradeonderwyseres in Pastoriestraat kom bly het, was in 1988 ook die stigter van die dorp se eerste kleuterskool. By Wildekanisland het sy jare lank 30 kindertjies op ‘n slag skoolgereed gemaak. Deur al die jare was sy ook trou betrokke by die Sondagskool en kinderkrans – en in die gemeenskap het sy ook haar deel gedoen. Vandag nog is sy hart en siel betrokke by die werk van die Here.As ma van vier kinders was die bak en versier van partytjiekoeke maar deel van haar lewe. Dit het ‘n ernstige stokperdjie geword toe sy by die Koekversierdersgilde in die Kaap aangesluit het. Sy het ‘n kursus bygewoon en gereeld hul boeke en brosjures ontvang. Bestellings het landwyd begin inkom en daar moes verpakkingsplanne gemaak word!Vir Susan is die uitdaging die wonderlike temas waarmee mense opdaag vir hul spesiale koeke. Dolfyne wat uit die water spring, swane wat swewend swem, kerktorings… teksverse. Koeke vir elke geleentheid en seisoen: Matriekafskeid, Voorstelling, huweliksherdenking, mondigwording… die VLV se 50 jarige bestaan, Sigri Barrella se 80ste verjaarsdagkoek onthou sy goed. Daar is gesinne vir wie sy vir ma en dogter ‘n voorstelkoek gebak het; vir die pa ‘n troukoek en vir die seun ‘n “sleutelkoek” vir die mondigwordingsparty.Niks is te groot of onmoontlik nie. Maar, waarsku Susan, sy gee eerder berading voor sy ‘n egskeidingskoek bak!

    Trudy Peck
    23/06/2013 at 03:56
    Reply

  2. “Toemaar,” sê sy “die Guggenheim in New York was verlede jaar ook onder rekonstruksie en toe was van die afdelings gesluit vir besoek. Onthou die imposante skilderye en vergeet wat jy nie kon sien nie. Jy kan dit altyd in ’n kunsboek tuis weer opsoek,” troos sy.

    Erica N. Hartman
    02/07/2013 at 22:33
    Reply

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>