Nuwe era vir teologiese opleiding

Geliasieer onder: Nuus,Suid-Afrika |

Daar breek eersdaags ’n nuwe era vir teologiese opleiding in die NG Kerk aan wanneer daar, naas die drie teologiese fakulteite se kuratoria, ook ’n Algemene Kuratorium tot stand kom.

Dit kan teologiese opleiding soos wat dit tans in die NG Kerk daar uitsien, in ’n splinternuwe rigting stuur. Teologiese opleiding is een van die belangrike gespreksonderwerpe in die NG Kerk; dit duik in feitlik elke vergadering op en dikwels ook tydens meer informele gesprekke. Dit is een van die vernaamste temas tydens die moderamenvergadering later vanjaar, waar die nuutaangewese lede van die Algemene Kuratorium dan ook teenwoordig sal wees.

Teologiestudente se ses jaarlange opleiding, die kurrikulumsamestelling en -inhoud, asook die hele saak oor tweede loopbaangeleenthede vir mense wat nie voltyds in die bediening staan nie, is enkele kwessies waaroor daar lank reeds in kerkkringe druk gedebatteer word.

Die Algemene Sekretaris van die NG Kerk, dr Kobus Gerber, het op navraag aan Kerkbode gesê die gesprek rondom teologiese opleiding is van kritiese belang vir die kerk. Hy hoop die Algemene Kuratorium kan in samewerking met die Moderamen nuwe deure in dié verband oopmaak.

Die Predikant vir Teologiese Opleiding by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit Pretoria, dr Flip du Toit, sê die totstandkoming van ’n Algemene Kuratorium spruit uit ’n besluit wat tydens verlede jaar se Algemene Sinode geneem is. Volgens hom is die totstandkoming van ’n Algemene Kuratorium daarop gemik om die NG Kerk se teologiese opleiding te koördineer en nie om weg te doen met die bestaande drie kuratoria nie.

Die nuwe liggaam sal wel ook aanbevelings aan die drie bestaande kuratoria maak betreffende aanvullende studie en die eksaminering met die oog op legitimasie. “Dit bly egter die verantwoordelikheid van die onderskeie teologiese fakulteite se kuratoria om voornemende predikante wat afstudeer vir legitimasie aan te beveel,” het dr Du Toit gesê.
’n Vergadering waartydens sake rakende die beoogde Algemene Kuratorium gefinaliseer sal word, vind op 28 en 29 Augustus in Kemptonpark plaas.

Die dekaan van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat, prof Francois Tolmie, het aan Kerkbode gesê hy het geen probleem met die totstandkoming van ’n Algemene Kuratorium nie. “Dit behels tot ’n groot mate bloot die voortsetting van die Algemene Kommissie vir Teologiese Opleiding (AKTO) se werksaamhede, net onder ’n ander vaandel.”

Die skriba van die kuratorium by die Stellenbosse kweekskool, ds Monty Sahd, sê hy reken ’n Algemene Kuratorium kan ’n sinvolle liggaam wees wat ’n belangrike rol kan vervul.

Die Algemene Kuratorium sal uit negentien lede bestaan, met al tien die kerk se sinodes wat daarop verteenwoordig sal word, asook die kuratoria van die onderskeie teologiese fakulteite. 
jean@tydskrifte.co.za

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>