NG Kerk vra twee vakansiedae

Geliasieer onder: Nuus,Suid-Afrika |

KAAPSTAD. – Behou asseblief Goeie Vrydag en Kersdag as openbare vakansiedae.

Dít was die NG Kerk se versoek in sy voorlegging aan die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van Kulturele, Geloofs- en Taalgemeenskappe tydens ’n openbare sitting in die Athlone-stadion in Kaapstad.
Dit is oorgedra deur dr Ben du Toit wat Publieke Getuienis van die Algemene Sinode hanteer. Die versoek is ook gerig namens die Konvent van Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika wat meer as vyf miljoen lede het.

In die voorlegging sê die kerk hy het begrip daarvoor dat openbare vakansiedae ’n groot geldelike las op die ekonomie plaas en die gevolglike druk om die getal vakansiedae te hersien. “Ons het ook volle begrip vir die grondwetlike reg van alle Suid-Afrikaners, as deel van ’n multi-kulturele en multi-godsdienstige nasie, om gelyke voorregte te geniet wat hulle godsdiens en kultuur betref.

“Ons wil ook daarop wys dat deur Goeie Vrydag en Kersdag te behou, Suid-Afrika in pas is met die meeste lande, nie net in Afrika nie maar wêreldwyd. Albei dae word elke jaar deur Christene oor die wêreld gevier en as sodanig is hulle van groot godsdienstige en historiese betekenis.”

’n Verdere oorweging, sê die kerk, is dat die meeste Suid-Afrikaners tot die Christelike geloof behoort. Meer as 75 persent van die bevolking vereenselwig hulle met die Christelike geloof en neem op dié twee dae in groot getalle deel aan plegtighede wat diepliggende emosionele waarde vir hulle het.

“Ons hoop opreg dat die kommissie die wysheid sal hê om dié kwessie, wat van groot openbare belang is, met die nodige sensitiwiteit … te hanteer.”

Volgens Die Burger het past Ferlon Christians, leier van die ACDP in die Wes-Kaap, tydens die sitting gesê Christene sal die strate invaar as dit nodig is vir die behoud van Christelike feesdae. “Versoeke om Christelike vakansiedae te herroep is ’n aanslag op Christenskap.”

Dr Du Toit het aan Kerkbode gesê die opmerkings van sekere Christene wat die kommissie van ’n sameswering teen die Christendom beskuldig het, was beskamend. “Daar bestaan nie so ’n komplot nie. Hoe gouer mense van dié soort emosie ontslae raak, hoe beter vir almal. Die kommissie probeer bloot sy werk doen wat deur die Grondwet aan hom opgelê is.” 
– Tobie Wiese

One Response to NG Kerk vra twee vakansiedae

  1. Die Regering moet eerder met hierdie onnodige publieke vakansiesdae soos Nuwejaarsdag,Menseregtedag, Gesindag, Vryheidsdag, Werkersdag, Jeugdag, Nasionale Vrouedag, Erfenisdag en Versoeningsdag en Welwillendheidsdag mee wegdoen.

    Dan sal ons SA burgers ook meer werksdae hê om te kan werk en geld te verdien.

    Los ons Christelike Vakansiedae soos Goeie Vrydae, Hemelvaartsdag en Kersdag uit.

    Edwin Müller
    Sasolburg

    Edwin Müller
    20/07/2012 at 10:25
    Reply

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>