PRETORIA. – Sowat 120 lidmate van die NG Kerk, die Verenigende Geref Kerk (VGK) en die Reformed Church in Africa (RCA) het op 27 Mei aan ’n gebedsgeleentheid in die ou historiese Bosmanstraat-kerk in Pretoria deelgeneem.
’n Liturgie is gevolg waarmee aandag gegee is aan onder andere lof, verootmoediging, die koms van die koninkryk, die werking van die Gees deur die kerk, kerkeenheid en voorbidding vir kerkleiers. Die Prayer of the World van die wêreldbiddag het ’n prominente plek in die liturgie ingeneem.
Die moderators van die jongste sitting van die NG Kerk se Noordelike Sinode en die Algemene Sinode van die VGK, dr Gustav Claassen en prof Thias Kgatla, en ds Freddie Schoeman van die Oostelike Sinode van die NG Kerk het dele van die liturgie waargeneem. Ds Victor Pillay van die RCA het ’n kort boodskap gelewer. Ds Johannes Kelber van die VGK-gemeente Rustenburg-Tlhabane het die sang op ’n besielende wyse in drie tale gelei. Dit was ’n besondere geleentheid en is baie positief deur die deelnemers beleef. Die hoop is uitgespreek dat soortgelyke geleenthede in die toekoms gereël sal word om die kerke en lidmate nader aan mekaar te bring.