Ds Petrus Moolman van die NG Kerk Ligkruis skryf:
Die probleem is nie slegs ’n “ooraanbod van proponente” nie. Die probleem is ook die realiteit van ’n krimpende NG Kerk! Volgens die Jaarboek het die prentjie net tussen 2005 en 2012 soos volg verander:
Gemeentes het amptelik verminder van 1 169 tot 1 159 (10).
Dienende leraars het afgeneem van 1 624 tot 1 602 (22).
Belydende lidmate het met 67 590 en dooplidmate met 45 833 verminder (113 423 siele). Teen gemiddeld 1 500 siele per gemeente het die kerk dus in sewe jaar met 76 gemeentes gekrimp.
Wat is die gevolgtrekking? Hoewel poste nie amptelik teen so ’n tempo verminder het nie, sê die statistiek daar is veel minder predikante nodig en dit is waarom daar nie beroepe is nie. In die huidige ekonomiese klimaat gaan minder gemeentes uiteindelik die luukse van duur predikantsposte kan bekostig. Gemeentes sal toenemend kontrakleraars gebruik omdat dit goedkoper is en proponente sal hulleself hierop moet voorberei.
Die kerk en sy proponente sal anders moet begin dink oor die opleiding en bediening van leraars:
Teologiese opleiding en legitimasie is nie ’n reg en aanspraak op ’n beroep in ’n gemeente nie. Dit skep net die moontlikheid van ’n beroep.
Roeping tot bedienaar van die Woord is groter as die NG Kerk. In die groter prentjie van die Koninkryk is daar baie poste vakant.
Die Kerk van Skotland het tans 47 vakatures. Presbiteriaanse kerke oor die wêreld het vakatures en dié kerke slaan die teologiese opleiding in Suid-Afrika hoog aan. Internasionale sendingorganisasies kan proponente oor die hele wêreld gebruik. In China is daar tans slegs een opgeleide predikant vir elke 6 000 Christene.
Natuurlik verg dit van sulke leraars ’n paar dinge: Dikwels sal taalopleiding en selfs addisionele beroepsopleiding (veral vir diens in Asië) nodig wees, en dat hulle dalk, soos die meeste sendelinge, soms finansiële steun sal moet werf.
Wat van vakatures in die Verenigende Gereformeerde Kerk se bruin en swart gemeentes? Waarom sou die Here ons net na wit kerke wou stuur?
Die NG Kerk sal ernstig moet besin oor die wye verskeidenheid redes vir die verlies aan lidmate en veral waarom die kerk krimp en nie groei nie!
’n Paar sake lyk vir my voor die handliggend:
Evangeliseer die wêreld rondom die gemeente en maak die groot leë kerke weer vol!
Begin ernstig kyk na multi-kulturele bedienings.
Ontwikkel ’n Koninkryksvisie en stuur proponente na die uithoeke van die aarde.
Ds Moolman sou mens kon vasstel wat het van hierdie verlore lidmate geword ?
*Het hul emigreer?
*gaan hul glad nie meer kerk toe nie?
* wat is die posisie by ander Susterskerke & denominasies wat lidmaatgetalle betref?
Anna Louw
16/08/2012 at 17:24
Baie dankie vir hierdie bydrae. Ek reken dat krimpende getalle is nie noodwendig negatief is nie. Baie mense is net doodgewoon ‘moeg’ vir kerkspeel en die magsvertoon van kerkorganisasies.
Die waarheid is egter dat gemeentes sal moet leer dat hulle die gemeenskap waar hulle is moet verteenwoordig. Dit beteken noodwendig om multikultureel te wees en dan word die taal “Engels” omdat dit vir verreweg die meeste verstaanbaar is. Ek werk in ‘n multikulturele gemeente in Lusaka en kan net daarvan getuig: om die grense van taal oor te steek is vir die meeste van ons Afrikaanses byna onmoontlik. Net die Here kan ons van hierdie beheptheid met TAAL verlos. Mens sou dink Jesus was ook ‘n taal-verraaier omdat Hy sy Hebreeus moes prysgee vir Aramees [Persies] — sodat baie meer [dalk almal] Hom kon verstaan!
Martin Heyns
30/08/2012 at 11:09
Ek het ook begin wonder wat staan ons in die NG Kerk te doen. Ek het met induksie begin en die samelewing begin verken, veral rondom die ou kerkgeboue van die NG Kerk. ‘n Span lidmate het deur-tot-deur besoeke afgelê. Die verassing was dat ‘n groot persentasie van die mense wat so besoek is eens op ‘n tyd aan ‘n kerk behoort het en bloot begin afdwaal het. 43% van die wat besoek is, het ‘n aanduiding gegee dat ons weer ‘n besoek moet aflê. Dit het daartoe gelei dat ek met navorsing oor ‘n gemeenskapsgerigte kerk begin het. Iets hieroor word in hierdie uitgawe van Kerkbode onder Nuwe tye, nuwe gemeentes genoem. Om saam te vat: Die kerk het in die samelewing onsigbaar geword, maar kan weer sigbaar word deur betrokke te raak in die nood van die gemeenskap.
Dirkie de Wet
22/09/2012 at 10:37
Kyk na die naamlyste van die Predikante wat Proponentstatus het, en ook na die Proponente wat aan die einde van elke jaar afstudeer. As hulle almal beroepe kry, sal dit nie nodig weexom die aftreeouderdom na 70 jaar toe te verhoog nie. Dan gaan dit eers lei tot ‘n ooraanbod van proponente soos wat dit in die jare 90′s die geval was.
Edwin Müller
Sasolburg
Edwin Müller
18/10/2012 at 13:37
Kerk leegloop het te doen met begeerte en keuse. Die tye wat ek op kerkrade gedien het was die vraag altyd hoekom kom mense nie kerk toe nie . Die vraag moes gewees het, die wat wel kom , wat beteken dit vir hulle en waar staan hulle in hulle eie geestelike lewe.
Die kerk as menslike instelling het vir te lank mense van hulle keuse en begeerte beroof deurdat hulle geforseer is om ‘n proses deur te gaan waar hulle gered is deur die belydenis proses. Die kerk het geen reg om ‘n tydgekoppelde reling te maak wat jou geredheid te bevestig nie.
Dit is ‘n keuse tussen jou en God op ‘n tyd wat Hy reeds weet of dit wel gaan plaasvind of nooit.
Die gevolg is eenvoudig dat baie mense ‘n tradisie dien met ‘n vals hoop op redding. Die ng kerke sit vol van met mense wat rondval en sukkel om geloofssin te kry omdat hulle nie kans gehad het om tot inkeer en bekering te kom nie. Hoe kan verwag word dat enige intitusionele kerk sonder God kan groei. Mense verlaat die kerk oor 2 redes , dit maak nie meer sin nie of hulle kom tot bekering.
Voorstel is om mense wat deur aannemings en voorstel worsmasjien is kans te gee om weer tot inkeer en bekering te kom en om mense by te staan met geestelike herstel. Dit kos nuutmaak en veranderde denke. Die kerk hoef nie meer te redeneer oor Belhar nie. Mense gaan uit hulle eie belei en dis wat tel. ‘n Instelling se beleidenis beteken niks voor God nie.
Wys mense hoe die ware Kerk lyk , en die bedienningsplatforms op aarde sal geseend wees. Dit sal God se goedkeuring wegdra. Oppas dat die aardse instellings nie tussen die mens en God kom nie. Hulle raak dan God se vyhand en dit gebeur baie .
Burger
01/11/2012 at 09:56
Laaste opmerking ter aansluiting van artikel en spesifiek “Evangeliseer die wêreld rondom die gemeente en maak die groot leë kerke weer vol! Begin ernstig kyk na multi-kulturele bedienings.”
Dit is so waar. Die mense wie gekies word om met die taak te doen , ouderlinge en diakens , is meestal onbevoeg. Ek is verskeie kere gekies omdat ek geforseerd bereidwillig was , nie omdat enige iemand geweet het of ek bekeer is nie en of ek ‘n begeerte gehad het nie. Die gesprekke in kerkraadsvergaderings is baie keer ‘n aanduiding van die Godverlatendheid van die kerk. Hoe word Sondagskoolonderwysers gekies , die nice persoon , die onderwyser in die skool , die ou wie skielik ‘n pligsbesef kry , die ou wat eindeloos gelek word om Sondagskool te gee ? Hoe kan jy waag om jou kind na iemand te stuur wie nie vir werklik God ken nie.
Ons het ongeluk blind geraak. Die gemaksone te lekker. As die beskrywing van die lou gemeentes in Openbaring nie ons bang maak nie, het ons groot redes tot kommer.
Vervang 30 onbekeerde kerkraadslede met 5 bekeerdes en God sal ‘n gemeente vestig.
Die lee kerke begin binne nie buite.
Burger
01/11/2012 at 12:53