KLIPTOWN. – Die kerke en geloofsgemeenskap is grootliks gemarginaliseer tydens die onlangse beraad oor maatskaplike samehorigheid en nasiebou wat by Kliptown in Soweto gehou is.
Dít is die indruk van dr Kobus Gerber, algemene sekretaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk, wat die beraad “op eie uitnodiging” bygewoon het.
Die beraad is volgens berigte deur pres Jacob Zuma vervroeg na die herrie oor die “Spear”-skildery wat hom met ontblote geslagsdele uitgebeeld het.
Gerber het gesê in die Mandela- en Mbeki-era is die geloofsgemeenskappe gereeld, tot drie keer per jaar, genooi om met die regering gesprek te voer oor sake wat die kerke raak. Dit het onder die Zuma-bewind doodgeloop. “Nou sukkel die SA Raad van Kerke hom dood om ’n afspraak met die regering te kry.”
Net by ’n klein gedeelte van een van die talle sessies tydens die tweedaagse beraad was daar ruimte vir bydraes deur die geloofsgemeenskap. “Dit terwyl Suid-Afrikaners van alle groepe deursuur is van godsdiens. Dit is ons etos, maar die regering erken dit nie.”
Gerber sê nietemin was dit opvallend dat sekere gemeenskaplike waardes deurgaans ’n rol in die besprekings by die beraad gespeel het. Dit is waardes soos die erkenning en uitlewing van menswaardigheid; die verbintenis om saam met mekaar die pad te stap (“al het ons baie van ubuntu verloor”); die noodsaaklikheid van etiese optrede; en ’n nuwe klem op verantwoordelikhede (naas regte).
“Hierdie waardes skep die vesel van ons samelewing en lê die kerke ook na aan die hart. Al was die kerke dus nie formeel daar nie, het die meeste afgevaardigdes hulleself uit hulle verskillende geloofsagtergronde laat geld.”
Gerber sê die gesprek oor sosiale kohesie kan net sinvol wees as elkeen wat daaraan deelneem en alle landsburgers die oortuiging “hierdie land is my land” deel en dit prakties uitleef.
“Elkeen van ons moet medeverantwoordelikheid aanvaar vir ’n heler en gesonder samelewing waar sosiale kohesie kan groei en floreer. ’n Nuwe taal moet geskep word wat al die diskoerse van mag, rassisme, onreg en meerderwaardigheid verwoord.
“Die geloofsgemeenskappe kan hierin meewerk om ’n geloofstaal, hooptaal en omgeetaal te formuleer saam met al die ander rolspelers in die land.”
– Jan Botha en Tobie Wiese
Die probleem is president Zuma. Hy kan by Moses van ouds gaan leer
Oor geloof en selfbeperking; mag en beheer
Moses was volgens die Ou-Testament die grootste profeet ooit (Deut. 34:10). Hy het immers met God direk gepraat en hy het nie net vir die volk ingetree nie, maar hy was ook bereid om in hulle plek te sterf. Hy kom in die teksgedeelte agter as God se Gees aan die beweeg is, verdwyn die behoefte aan mag en beheer (vers 29). Moses is bewus van sy beperkinge en voel nie daardeur bedreig nie …
Wanneer gelowiges deur die Gees gedryf word, erken hul hul beperkinge en pas hul selfbeperking toe. Dit gaan daarom in geloof nie oor mag en beheer nie. God as Skepper se mag lê nie in die grootheid nie, maar in die kreatiwiteit. “Kreatiewe mag hou dissipline en selfbeperking aan die kant van die Skepper in, soos ‘n dramaturg wat toelaat dat sy of haar karakters in die drama hul eie karakters ontwikkel” (Migliore in the Power of God, 1983). In Jesus Christus ken ons God as medelydende mag. Dit is die mag van lydingsliefde. (Migliore). Deur die mag van die Heilige Gees, die gewer van nuwe lewe, verander ons na die beeld van ons Skepper en Verlosser (Migliore).
Die beskouing van God se mag het ‘n effek op die manier waarop die mens die wêreld en hom/haarself sien en andersom. “The way in which we conceive God and the way we speak of God have real consequences in the realm of human affairs” (Case Winters in God’s power: Traditional Understandings and Contemporary Challenges, 1990). Wanneer die mag van God as dominerend en kontrolerend beleef word, kan dit tot ‘n magdom probleme lei: soos die verdwyning van menslike vryheid (Case Winters).
President Zuma se openbare geloofbelydenis klink arrogant, dit getuig van kontrole, mag, manipulasie en beheer. Hetsy pastoor of president ek sien rooi ligte flikker. Sy beskouings van Goddelike mag, sy teologie, veral in die politiek, sy ideologie, dit is nou sy “iteologie”, ek bedoel etologie lyk gevaarlik (sien preekstudies, www. communitas.co.za).
Pieter van Niekerk
19/07/2012 at 18:48
Ons Christene wat in die Drie-Enige God glo, Vader, Seun en Heilige Gees, moet net voortgaan om ons Christenskap daagliks uit te leef en te bid vir die Regering. Ons optredes en gebede sal ‘n verskil maak wanneer GOD dit beantwoord. Sodoende sal hulle agterkom dat hulle nie sonder God kan bestaan in hierdie wêreld nie.
Ons moet ook onthou dat die Kerk nie die Kerkgebou is nie. Dan sal hulle besef dat hulle nie sonder GOD EN DIE GELOWIGES wat HOM aanbid kan bestaan nie.
Edwin Müller
Sasolburg
Edwin Müller
20/07/2012 at 10:12