Jong skoolverlaters of studente met ’n passie vir naastediens en diensbaarheid kan van volgende jaar af hulle talente verder ontwikkel, terwyl hulle terselfdertyd help om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Dié inisiatief van die Jeugkommissie van die NG Kerk se Noordelike Sinode staan as Ritmejaar bekend. Prop Teodor van der Spuy, wat tans besig is om die Noordelike Sinode plat te toer om die Ritmejaar bekend te stel, sê baie jongmense het ’n hunkering om na skool “’n jaar vir die Here te gee”.
“Ritmejaar is ’n jaar van ontdekking en ontwikkeling as leier. Dit is ’n feit dat die NG Kerk jongmense afstaan aan ander instansies wat reeds in hierdie behoefte van ’n ontwikkelingsjaar voorsien. Nie net ons land nie, maar ook die NG Kerk het ’n groot behoefte aan ’n geslag jongmense wat gereed is om die kerk met passie en ywer vorentoe te neem – jongmense wat bereid is om op te staan vir hulle geloof.”
Die jeugkommissie sê hulle glo ’n handjie vol mense het ongekende potensiaal om ’n daadwerklike verskil in die wêreld te maak.
Jongmense tussen 18 en 30 jaar kan betrokke raak by Ritmejaar, waar hulle ook opleiding in jeugevangelisasie, gemeenskapsbetrokkenheid en leierskapontwikkeling sal ontvang. Die modules is by verskeie universiteite geakkrediteer.
Vir meer inligting oor Ritmejaar en die koste daaraan verbonde, besoek die webtuiste www.ritmejaar.co.za of e-pos hulle by info@ritmejaar.co.za of kontak Teodor of Anru by 072 433 0034 en 083 469 6783.
– jean@tydskrifte.co.za