“God-deeltjie” het talle mislei

Geliasieer onder: Nuus,Suid-Afrika |

Die ontdekking van die sogenaamde “God-partikel” bied nie ‘n gesonder of beter basis vir die gesprek tussen geloof en wetenskap nie, meen teoloë en ander kundiges. Een rede vir hul skeptisisme is sekere Christene se aanspraak dat dié opspraakwekkende ontdekking, wat verklaar hoekom die heelal massa het, die bestaan van God bewys.

 Hendrik Geyer, professor in Teoretiese Fisika aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die ongelukkige benaming “God-partikel” kan teruggevoer word na Leon Ledermann, ‘n voormalige direkteur van die Fermilab-versnellersentrum in Chicago en die Superconducting Super Collider (SSC) se publikasie The God Particle: If the Universe Is the Answer, What Is the Question?. Dié titel was waarskynlik daarop gemik om die Amerikaanse openbare steun en die Kongres se steun te werf vir die vestiging van die projek in Amerika. Dit is egter deur die Kongres afgekeur. 

Prof Geyer het gesê die ontdekking van die Higgs-boson bied geen spesiale nuwe insigte vir die gesprek tussen wetenskap en geloof nie. “Baie van die vergelykings wat tans in die pers en in die openbaar getref word, is hopeloos te breedsprakig en aanmatigend. Daar is o.a. geen gronde daarvoor om ‘n parallel met evolusie te tref nie.”

Die moderator van die NG Kerk se vorige Algemene Sinode, prof Nelus Niemandt, sê die taal van die wetenskap en geloof is twee verskillende tale wat nie in konflik met mekaar hoef te wees nie. “Die taal van die wetenskap is baie eksak. Dit handel oor bewysbare feite terwyl geloofstaal meer te make het met die verwondering en misterie van die skepping.”

Die kerk het lankal nie meer finale seggenskap oor wetenskaplike deurbrake nie. Die kerk moet liewer met beskeie nederigheid en stille verwondering kennis neem daarvan sonder om self wetenskaplike uitsprake te probeer maak, het hy gesê.

 Anton van Niekerk, professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, sê hoewel hy ten gunste van gesprek is, is die diskoerse van die geloof en die wetenskap fundamenteel verskillend en hy is skepties oor die vrugte wat so ‘n gesprek kan oplewer. Die wetenskap probeer spesifieke verskynsels op grond van empiriese waarneming en logiese denke verklaar deur middel van versigtig geformuleerde teorieë.

“In die geloof vra ons vrae oor die sin van die wêreld of die werklikheid as sodanig; oor waar ons vandaan kom, oor wat hier en nou sin aan ons lewe gee, of dit wat ons sien en ervaar die somtotaal is van alles wat daar is…”

“Die wetenskap het geen monopolie op wat ons van en omtrent die wêreld kan weet nie.” Geloof wat egter ‘n wetenskap probeer wees, word ‘n bygeloof, het hy gesê.

Dr Abel Pienaar van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit in Pretoria sê die jongste deurbraak wys weer eens die bereidheid van die wetenskap om eerlik te bly soek na antwoorde. “Dit is egter nie deel van die wetenskaplike se wêreld om stellings te maak oor, byvoorbeeld, of God bestaan of nie bestaan nie. Daar is geen toetsbaarheid vir so ’n stelling moontlik nie.”

Dr Pienaar sê mense wat hulle geloof as wetenskap beskou, verstaan glad nie die wêreld van godsdiens nie. “Godsdiens gaan oor ’n innerlike wêreld van verbeelding, belewenis en gevoelsmatige uitdrukking, poësie, metafore, simbole, emosies en kuns.

“Godsdiens betaal vandag die prys vir die feit dat hy hom laat verlei het om wetenskaplik oor God te probeer praat. Dink net hoe anders ons wêreld daar sou uitgesien het indien God nie gesien was as die ‘Ewig Onveranderlike’ nie, maar eerder as die ‘Ewig Veranderende’ of ‘Ewige Misterie’. “

Prof Geyer sê die  raamwerk waarbinne die bestaan en eienskappe van materie en die wisselwerkings (of kragte) tussen alle fundamentele deeltjies verstaan word, heet die Standaard Model (dit sluit ‘n beskrywing van swaartekrag tans uit; dit word afsondelik veral binne die raamwerk van Einstein se algemene relatiwiteitsteorie verstaan en ge-analiseer). Die Standaard Model het oor meer as drie dekades besondere sukses behaal om eksperimentele waarnemings van allerhande prosesse op die vlak van elementêre deeltjies te koördineer en ook te voorspel.

Een aspek wat tot op hede ‘n teoretiese grondslag gehad het, sonder eksperimentele bevestiging, is die bestaan van die Higgs boson. In die wiskundige formulering van die Standaard Model word ‘n deeltjie met die eienskappe van die Higgs boson benodig om te verstaan waarom die meeste elementere deeltjies massa het; daar is uitsonderings, soos die foton of ligdeeltjie wat massaloos is, maar dis ‘n eksperimentele feit dat deeltjies wel massa het. Sonder die inkorporering vd Higgs boson dui die Standaard Model daarop dat alle deeltjies massaloos moet wees, in teenstelling met die werklikheid. Om die rede is die Higgs boson wel ‘n soort sluitsteen om ‘n ontbrekende deel vd Standaard Model nou ook eksperimenteel te kan fundeer. Die feit dat dit nou eers ontdek is, het alles daarmee te doen dat die Higgs boson self so massief is (omtrent 125 protonmassas) en dat die LHC vir die eerste keer energieë hoog genoeg kon bewerkstellig sodat Higgs bosone as sekondere resultate van botsings tussen protone geskep kon word.

 Oor die benaming “God particle” het prof Geyer gesê allerhande aansparake in die pers en openbare domein ten spyt, is die verhaal van hierdie (ongelukkige) benaming goed vasgelê en terug te  voer na Leon Ledermann (voormalige direkteur van Fermilab versnellersentrum in Chicago, en destyds groot voorspraak van die Superconducting Super Collider (SSC) se publikasie http://www.amazon.com/The-God-Particle-Universe-Question/dp/0385312113 (hierby ‘n uittreksel). Die boek is geskryf toe die SSC-projek  nog nie finaal deur die Amerikaanse Kongres gekelder is nie. Lees maar self die geskiedenis vd SSC bv by http://en.wikipedia.org/wiki/Superconducting_Super_Collider

 In die uittreksel gee Ledermann twee redes vir sy naamkeuse (ek weet nie juis hoe oortuigend nie – invloed vd uitgewer en parallel met die Babel verhaal);  ek dink egter mens moet nie uit die oog verloor dat hy nog aan die propaganda maak was vir die SSC nie – kyk na sy eie argument dat die Higgs boson die primêre rede vir die bou vd SSC is (p2 van die uittreksel). Ek dink sy naamkeuse “God particle”  is nie los te maak daarvan dat hy openbare en kongres steun aan die werf was vir die projek nie, maar kan dit natuurlik nie bewys nie. Hoe ook al, enigiets anders wat in die “God particle” gelees word, is mense se eie (moedswillige) konstruksies.

“Oor “die invloed daarvan op die gesprek tussen wetenskap en geloof” gaan ek my nie uitspreek nie, behalwe om te sê dat die ontdekking vd Higgs boson geen spesiale nuwe insigte tov hierdie gesprek bring nie,” het prof Geyer gesê.

 – Jean Oosthuizen en Tobie Wiese

 

2 Responses to “God-deeltjie” het talle mislei

  1. Ons moet nou maar vir mekaar erken dat daar allerande bog is wat in die naam van die wetenskap deurgaan. Die afgetrede dekaan van Wits se Fakulteit Wetenskap en internasionaal bekroonde prof. Jan Boeyens het in die afgelope weke verklaar dat die Oerknal teorie in 1948 begin is as ‘n April grap. Hy sê dat dit as ‘n wetenskaplike teorie totaal en al onaanvaarbaar is. Daar is geen bewyse daarvoor nie en daar is geen rede dat daar ooit so iets soos ‘n oerknal moes wees nie en is as sulks onwaar.
    Nogtans word die oerknal vir meer as ‘n half eeu in die wetenskap voortgehou as die standaard model in die kosmologie. Die wetenskaplikes wat by die Cern projek in Switserland, betrokke is het nou weer verklaar dat hulle die finale bewys gekry het dat die oerknal plaasgevind het! Die direkteur van die 5000 wetenskaplikes-projek, Rolf Heuer het verder verklaar: “We have now found the missing cornerstone of particle physics.”
    Waarom klink dit so baie na die “missink link” van die evolusieleer, wat eweneens voortdurend aan ons opgedring word as wetenskap. Wanneer gelowiges op grond van hulle gesonde verstand, hierdie soort “wetenskap” bevraagteken, word daar dadelik gegrom dat die kerk hom nie moet inmeng met die wetenskap nie. Dan word daar verskillende terreine vir geloof en wetenskap voorgestel om die probleem op te los. Nelus Niemand sê dat die wetenskap eksak is en dat die geloofstaal te make het met verwondering. Anton van Niekerk sê dat die diskoerse van geloof en wetenskapfundamenteel verskillend is.
    Dit is ‘n onnodige en verkeerde teenstelling wat gemaak word. Christene wat hulle verlaat op die openbaring van God in die Bybel het geen probleem met operasionele wetenskap – die wetenskap waarmee vliegtuie, motorkarre en rekenaars gebou word nie. Ons het ‘n probleem met die sg historiese wetenskap, waarin wetenskaplikes teorië ontwerp, waarin God in beginsel nie ‘n plek moet hê nie. Iemand het besluit dat God nie ‘n plek in die wetenskap het nie. Ons kan in die kerk sing: “God van yster en beton”, maar in die akademie hou God blykbaar ‘n gevaar in vir gesonde verstand. Dit is dan wanneer mens te doene kry met die soort bog, in die naam van wetenskap, wat prof Boeyens nou vir ons uitgewys het.

    Jan Louw
    19/07/2012 at 19:48
    Reply

  2. Ek wens die mense wil ophou om hulle met onnodige dinge mee besig te hou, en begin aandag gee aan dinge soos om Werksloosheid te bekamp en Werk te skep vir die Werksloses in Suid-Afrika, die gebrek aan Armoede, Alkohol en Dwelmmisbruik, die Onderwys, die behandeling van die pasiënte by die Hospitale ens. As hulle begin om die paaie ook instand te hou, sal dit verseker dat daar nie slaggate in die paaie is nie.

    Edwin Müller
    Sasolburg

    Edwin Müller
    20/07/2012 at 10:33
    Reply

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>