Bybel-Media bestee miljoene in kerk

Geliasieer onder: Nuus,Suid-Afrika |

Bybel-Media (BM), uitgewer van Kerkbode, het die afgelope boekjaar – die jaar waar­in hy sy 40ste bestaansjaar gevier het – weer sy slagspreuk “vennoot in geloof en bediening” gestand gedoen.

Dié kerklike maatskappy het in die boekjaar tot einde Maart 2012 meer as R6 miljoen aan projekte binne die kerk en wyer bestee. Dit is afgesien van die omset van die meer kommersiële afdelings soos Tydskriftemaatskappy en Bybel-Media Handel.

Die randwaarde van die totale omsette van die BM-Groep vir die boekjaar 2011-2012 was volgens BM se jongste jaarverslag net minder as R30 miljoen.

Ondanks moeilike ekonomiese tye, waar veral die gedrukte media om oorlewing veg, het Tydskriftemaatskappy, die afdeling wat Kerkbode en LIG uitgee, die eerste keer in baie jare daarin geslaag om met ’n wins af te sluit.
Kerkbode se sustertydskrif, LIG, pronk steeds as een van die land se top-50 tydskrifte. LIG neem tans die 40ste plek ten opsigte van sirkulasie op ’n ranglys van 142 tydskrifte in.

Volgens dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof van die Bybel-Media Groep, is BM grootliks van donateurs afhanklik vir sy voortbestaan. Meer as 70% van sy fondswerwingsinkomste kom vanaf debietorders van sake-ondernemings en individue. Dr Fourie skryf in die jaarverslag. “Stygende lewenskoste het meegebring dat ’n aantal debietorders gekanselleer is, kontantbydraes plek-plek afgeneem het en minder gemeentes ’n spesiale kollekte vir BM opgeneem het. Die positiewe nuus is dat baie donateurs hulle bydraes verhoog het.”

Die publikasie-afdeling is een van die belangrikste draers van die missie van BM. Altesaam 25 nuwe titels, 17 e-boeke en ses herdrukke het by dié afdeling die lig gesien. Een van die boeke, Fluit-fluit die kerk is uit? is vanjaar met die Andrew Murrayprys bekroon.

BM se missionêre bedienings het weer eens goed gevaar. By die Nehemia Bybelinstituut (NBI) het 834 nuwe studente geregistreer. Die Hugenote-Bybelinstituut (HBI) se 367 studente het kursusse in Christelike nood-en-traumaberading, Bybel- en Godsdienskunde, Jeugbediening en Sending gevolg. Die NBI sowel as die HBI se kursusse is by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Pretoria (UP) geakkrediteer sodat studente wat die kursusse suksesvol afhandel ’n UP-sertifikaat verwerf.

Die elektroniese uitdagings is met groot sukses aangepak. Bybel-Media het 16 webblaaie bestuur en in stand gehou. Hierdie webblaaie het in dié tydperk gesamentlik meer as ’n halfmiljoen unieke besoeke opgelewer.

Die elektroniese dagstukkie Boodskap vir vandag, wat eksklusief vir Bybel-Media geskryf word, se daaglikse intekenare het tot meer as 6 500 toegeneem en is ook op CD en in MP3-formaat beskikbaar. BM ontvang talle getuienisse van mense wat dié dagstukkies waardevol vind. “Dankie vir julle daaglikse stukkies Goeie Nuus wat Christenskap so prakties uitbeeld. Geen ingewikkelde ‘high in the sky’-taal nie! Ek kan nie wag om elke oggend my dag te begin deur julle dagstukkies te lees nie. Dit maak my siel se petroltenk vol en gee my woema vir die dag,” skryf Marinda Brits, een van die talle tevrede intekenare.
– jean@tydskrifte.co.za

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>