Anglikaanse priesters word Katolieke

Geliasieer onder: Nuus,Wêreldnuus |

Nog 17 Anglikaanse priesters het in Engeland na die Katolieke Kerk oorgeloop. Hulle sal binnekort as Katolieke priesters georden word.

Die groep is deel van ’n aantal ontevrede Anglikane wat die Pous se aanbod aanvaar het om Katolieke te word.
Dit volg nadat die Vatikaan ’n nuwe Katolieke orde in die lewe geroep het vir Anglikaanse priesters wat Katolieke wil word uit protes teen wat hulle beskou as die liberale koers van die Anglikaanse Kerk.

Die aanbod behels dat die oorlopers hulle Anglikaanse tradisies behou en dat getroude priesters welkom is om as priesters in die Katolieke Kerk te dien. Die helfte van die 17 priesters wat dié maand oorgestap het, is getroud. Na ’n kort opleiding sal hulle tydens ’n afsonderlike geleentheid as priesters georden word. Intussen dien hulle as diakens.

Met die oorstappery doen die Anglikaanse priesters afstand van hulle vaste besoldiging en pensioenregte in die Anglikaanse Kerk.

Dit is onseker hoeveel Anglikaanse priesters hulle voorbeeld gaan volg. Die ontevredenheid onder Anglikane is onder meer weens ’n ál hoe groter aandrang dat vroue tot die amp van priester toegelaat word en dat homoseksuele mense as volwaardige lidmate van die Anglikaanse Kerk aanvaar word. Vir die Katolieke Kerk wat gebuk gaan onder ’n al groter wordende tekort aan priesters, is die nuwe aankomelinge welkome nuus.
– Bronne: Ikon en Fox News

5 Responses to Anglikaanse priesters word Katolieke

  1. Dis interessant om die verwilkkelinge te sien wat in die ANglikaanse en Katolieke Kerke aan die gang is.

    Edwin Müller
    Sasolburg

    Edwin Müller
    14/06/2012 at 14:34
    Reply

  2. Elke gelowige klou vas aan sy/haar eie geloofsgewoontes. Wanneer dit verander dan stig ons af of loop weg. Is dit waarmee ons as kerk onsself mee besig hou, dit wat God verwag? Al die reëls en voorkeure en afkeure en opinies, kom dit nie neer op ons menslike selfgesentreerdheid nie? Kom ons aanbid God sonder al die aardse reëls.

    Ig Verwey
    16/06/2012 at 14:09
    Reply

  3. Terug in die arms van ‘Moeder Kerk’ wat hulle pap sal druk. Lees 50 years in the Church of Rome deur Charles Chiniquy van Quebec.

    Nico Brits
    27/06/2012 at 19:47
    Reply

  4. Vir ons as Calviniste lyk dit asof hierdie Anglikaanse priesters ‘n geweldige groot stap neem. Maar dit is nie regtig so ‘n groot stap nie.

    Daar is tussen die “High Church”-groepering in die Anglikaanse Kerk (en die priesters wat oorgeloop het se redes vir hul oorlopery dui daarop dat hulle van hierdie “strenger” Anglikane is) en die Katolieke Kerk omtrent soveel verskil as wat daar tussen die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke is.

    Jan H Stander
    02/07/2012 at 13:04
    Reply

  5. Dus, volgens hierdie ouens is vroue in die amp en gay Christenskap ‘n groter euwel as sistemiese probleme met kindermollestering? Ek is sprakeloos.

    A van Schalkwyk
    08/08/2012 at 06:34
    Reply

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>