Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 3 September 2010
Wat maak predikante met die wetenskap? - 2010/02/05
Danie van der Ligt
 

Ek was ’n BA-Admissiestudent so van 1976 af by Tukkies, maar het net twee jaar suksesvol voltooi.

Daarna het my “kop uitgehaak” en hoewel ek weer daarna ’n keer of wat probeer studeer het, het dit nie gewerk nie. My ongelooflike onverantwoordelikheid het die oorhand gekry.

Ek het begin werk, is Weermag toe en na ’n lang draai boer ek nou in die Namib met boerbokke en wild saam met my vriendin. (My vrou en seun is in 1996 oorlede en my vriendin se man in 1995. Ons is sedert 1996 saam.)
Deur die jare vind ek steeds die Christelike geloof interessant, inderdaad alle vorme van geloof, en hou ek my redelik op datum op die terrein. Ek het egter jare gelede opgehou glo aan enige vorm van god of godsdiens. Al wat oorgebly het, is nuuskierigheid, maar dan is ek oor bykans enigiets nuuskierig, en deur die jare het ek nooit ophou “studeer” nie, veral in paleo-antropologie en verwante terreine.

Kom ons sê maar Dawkins, Coyne en Hitchens se boeke is van die belangrikste op die bedkassie, dan weet u waar ek staan. Iets wat my mateloos interesseer, is die ontploffing van wetenskaplike kennis die afgelope jare, en hoe hierdie kennis aangebied word in teologiese fakulteite, en aanvaar of verwerp word deur predikante van die NG Kerk. Is daar enige studies waarvan u bewus is op hierdie terrein?

Ek sou graag wou weet, breedweg, watter persentasie predikante onomwonde glo in elke saak wat in die Bybel aangedui word as dat dit werklik plaasgevind het. ’n Voorbeeld: Die offer van Isak op die berg – het dit presies so gebeur? Of die Noag-verhaal? Of die verhaal van Lot en sy vrou? Wat van die wonderwerke in die Nuwe Testament?

Ek het langer as tien jaar reeds hoegenaamd geen kontak meer met predikante nie, behalwe die af en toe “hallo en tot siens”. Daarom weet ek nie wat hulle idees hieromtrent is nie, behalwe dat ek in verskillende media lees van al die woelinge op dié terrein.

Glo die meeste NG predikante nog steeds in die letterlike interpretasie van die Bybel? Is daar al vraelyste uitgestuur waarvan u bewus is? Ek sou baie graag wou weet.

Ek soek nie sensasie nie. Dit is bloot interessant. Ek dink nie dat predikante gebrekkige intelligensie het nie, maar ek wil graag weet wat met die wetenskap gemaak word in teologiese fakulteite en deur predikante.

Dit was nie die dood van my vrou of my 15-jarige seun wat my geloof vernietig het nie. God en godsdiens het in my lewe opgehou bestaan, behalwe as ’n kulturele verskynsel wat my bly interesseer, jare voor die motorongeluk, en dit was die wetenskap wat dit gedoen het.

Ek vermoed dat ’n groot persentasie predikante en dosente moeilikheid het met die wetenskap en die invloed daarvan op hulle geloof, maar nie die moed het om na vore te kom nie. Dit is moontlik iets waaroor predikante in die binnekringe praat, maar kan u my dalk van inligting voorsien of aandui waar ek kan begin soek vir betroubare studies?

(Ek weet nie van enige sodanige studie wat in Suid-Afrika gedoen is nie. – Red).

 
<<Terug
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.